Familienuus tot Julie 2001
click hier om die Notule van die vergadering te
sien
A JAAP EN ALIE HOOGENBOEZEM
Bets Hoogenboezem en kinders
Erika en Jacobus laat weet dat hulle ongelukkig nie die fees kan bywoon nie. Dit gaan met hulle almal steeds goed.Groete aan al die familie.
Theuns en Rina Hoogenboezem Met Theuns gaan dit maar so-so. Hy het weer geval maar gelukkig niks gebreek nie. Jaco en Elaine woon in Vanderbijlpark. Hulle twee seuns Jahnes(15) en Tiaan(13) word nou hemelbesems. Karin is steeds onderwyseres by by Hoër Volkskool en Danie is vise-hoof by Dr Malan Hoerskool in Meyerton. Hulle kinders Sarina is nou 16, Hendrik en Michelle woon naby Potchefstroom. Hendrik is besig om 'n wildsplaas te ontwikkel. Hulle is nou heelwat nader as Timbavati. Hulle een dogtertjie Mariska het SA kleure in karate. Leon en Ida Grobler woon steeds in Vereeniging. Leon is 'n personeelbestuurder by Yskor. Ida is op die oomblik huisvrou. Jaco en Tania Basson is steeds op Heidelberg. Tania werk in Edenvale by 'n kwekery en Jaco is by die weermag in Heidelberg.
Chris en Elsie de Jongh. Met Pa Chris en Ma Elsie gaan dit baie goed. Hulle woon in Somerset-Wes in hulle aftree huis. Hulle gaan naweke na Lambertsbaai en ons sien mekaar van tyd tot tyd daar. Pa Chris werk nog steeds al is hy afgetree. Hy "locum" by my praktyke in die Kaap en werk so 8 dae in die maand daar. Met Ma Elsie gaan dit baie goed. Sy vertel en gee terugvoer van almal soos julle skryf en bel. Dit gaan ook beter met haar gesondheid. Sy kyk mooi na haarself en help Alida en Monet met die kliengoed. Hulle is, soos dit hoort, tog so mal oor ouma en oupa. Johan en Monet. Dit gaan baie goed met hulle.. Hulle twee kinders Chris 5 en Sunel 2jr is 'n groot plesier. Johan woon in Durbanville en werk in die Paarl. Hulle bou nou 'n groter huis want die kinders raak nou besig. Japie: Ek is nog baie gelukkig in Pretoria. Ek werk die hele land vol en brei nou uit na Oos Afika. Dit gaan goed met my. Ek het vir my 'n Harley Davidson aangeskaf en dink baie terug aan wat oupa Jaap in sy laaste dae op die stoep daar op Lambertsbaai.van die lawaaierige motorfietse gese het "Gat bom". Alida en Bertie Dit gaan goed met die tweetjies. Hulle het ook al twee kinders. Bertie Louw is amper ses. Christiaan is in Januarie gebore en is 'n knewel van 'n kind. Alida werk nou half dag as 'n besigheids konsultant in Somerset-Wes en spandeer baie tyd saam met haar kroos. Bertie doen so stil stil sy ding en is nou die Mannekrag direkteur van PEP. Hulle kuier baie saam met Pa Chris en Ma Elsie op Stilbaai.
B. HENK EN BETTIE HOOGENBOEZEM
Johannes en Marietjie Hoogenboezem. Johannes en Marietjie het in Februarie 2001 'n gewapende aanval en roof beleef en dank Vader fisies niks oorgekom nie. Kort daarna het ons begin inpak en op 3 Julie 2001 na Heidelberg verskuif. Pa en Ma bly nou in Begeman str 27 en is heelwat veiliger daar. Johannes het katterakte in albei sy oë gehad. Hy is geopereer en alles gaan goed. Met die res van die familie gaan dit goed. Roly en Anneke is nog in Boksburg. Marelise, is in Stellenbosch op universiteit en dis ver van die huis af. Haar ma en pa kry swaar maar sy geniet haar gate uit. Hannes van Henk en Mari is pas hoërskool toe. Wiekus en Lizl is op 27 Oktober 2001 getroud. Lize is op die oomblik in Taiwan en Willemien is steeds in Pretoria. Basie is in November 2000 getroud met Charmaine. Hy het 'instant' pa geword van drie kinders, Cheron(11), Terence(9) en Kyle(7). Hulle bly in Pretoria. Henda is op 24 Mei in Ierland getroud met Martin Hayworth. Sy het verlede jaar haar huisdoktersjaar klaargemaak in George. In ons familie het daar dus twee skoonsussies, 3 kleinkinders en 'n swaer bygekom en 1 kleinkind op pad.
Renier en Anna van Emmenis. Ons kan met groot dankbaarheid getuig dat dit met ons en met ons groot en klein spruitjies ontstellend goed gaan. Ons verhuising na 'n meenthuis in Sundowner Randburg was 'n wyse besluit en ons was nog nie vir een dag daaroor jammer nie. Ons verlang nie eens na ons vorige groot huis nie. Ons beveel so 'n woonplek vir almal bo 50 aan. Daar was die afgelope jaar geen aanwas in die van Emmenis 'clan' nie maar die kleinkinders wat ons het gee ons oneindig baie plesier. Daar was net een verhuising nl. Louis en Marietjie Hulle het so 'n kilometer of twee na 'n groter meenthuis in Randburg getrek. Elma het meer as twintig jaar gelede 'n groot en suksesvolle rugoperasie gehad. Na baie myle het sy egter die afgelope tyd met kwaai rugpyn gesukkel en is 'n verdere operasie gedoen. Dit gaan goed met haar. Renier het, soos ons stamvader, besluit om sy herinneringe aan sy verlede op skrif te stel. Aanvanklik was sy vordering verbysterend maar dit het nou ietwat tot stilstand gekom. Hy hoop egter om dit voor die einde van die jaar aan sy kinders te besorg. Johan en Elma Fleischmann. Met ons gaan dit klopdisselboom. Johan is bedrywig in die gemeente: daar is groot opgewondenheid oor die nuwe gemeentesentrum in aanbou. Elma het 'n nuwe hoof by die skool gekry en vee saam met die nuwe besem skoon - sommer by die huis ook. Anneen doen alles wat verby kom, en so deeltyds haar skoolwerk ook. Rinus het seker sy ma se ystere wil gekry, sy pa sê hy het nog syne.
Ina Hoogenboezem. Potchefstroom. Dit gaan baie goed op Potch. Die kleinkinders is lekker naby en kuier so nou en dan by ouma. Fanie en Carin Fanie werk steeds met Geografiese Inligtingstelsels en hulle doen meestal werk vir selfoonmaatskap- pye. Carin maak kinders groot en ry veral taxi. Michael is in graad 6 en kan nie wag vir die laerskool om verby te wees nie. Ina is in graad 5 en Schalk in graad 1. Dit gaan baie goed met ons almal en ons is dankbaar vir werk en gesondheid. Henk en Roline. Henk werk as projekbestuurder in die rekenaar bedryf. Hy werk vir 'n maatskappy wat sagteware ontwikkeling doen. Roline pas kinders op. Annemarie is in Graad 1 en Schalk is twee jaar oud. Dit gaan baie goed met ons, ons is almal gesond, en het werk. Ons is baie geseënd en dankbaar. Douw en Marian. Douw is ook in Telekomunikasie besigheid en Marian swot HOD pre-primer by Unisa. Hulle kinders: Bernard, Tjaart en Jeanne. Schalla en Lieschen is steeds op Vivo. Klein Schallie is op 6 Augustus 2001 in Pretoria gebore. Hy het vog op sy breintjie gehad en is na 'n week geopereer om 'n dreineringspypie in te sit. Dit gaan nou baie goed met ouers en seun. Hy is die vierde Schalk Petrus Bernardus Hoogenboezem.
C. PIET EN GER SCHOLTEMEIJER
Jan en Rina Scholtemeyer Dis ongelukkig nie vir my en Rina moontlik om die fees by te woon nie. Ek weet nie of enige ander van die lede van die Scholtemeijer-tak dit sal bywoon nie. Nietemin rapporteer ek dat dit nog met almal goed gaan. Daar het ook nie die afgelope jaar iets opspraakwekkend gebeur nie. Die 'clan' het ook nie groter of kleiner geword nie en almal is nog in mindere of meerdere mate te lande..
Bennie en Adrika Botha (sien op bladsy 9 ).
Rieks Oosthuizen Rieks sê dit gaan met haar goed. Sy geniet Maarten en Welma se 2 dogtertjies baie. Maarten is klaar met sy MBA en Welma het haar doktersgraad gekry. Sy het intussen ook 'n senior lektors pos gekry aan die PU vir CHO, in die dept. Voedingkunde. Germarie het haar graad in onderwys en Admin. in Verpleegkunde gekry. Sy is ook klaar met haar Kardio opleiding. Sy is nou Hoofteatersuster van die Kardio afd. in Vereeniging. Piet is steeds in Pretoria by die Balie
D. PIET EN ANTJIE HOOGENBOEZEM.
Tant Evelyn het gebel en vra verskoning dat sy nie die fees kan bywoon nie. Dit gaan goed met haar, sy loop nie goed nie en is afhanklik van ander. Een van haar kleinseuns is getroud dus het sy `n nuwe kleindogter bygekry.
Ben en Corrie van Wyk Ons is dankbaar om te kan sê dat almal nog gesond is en gespaar gebly het. Ons dink nog nie aan trek of aftree nie. Eben en Marian boer nog voort. Die kinders groei soos kool en Marian moet baie ry vir al die belangstellings van die kinders. Suzan is in Gr.11 en sing in die Noordwes Jeugkoor dus ry sy elke Vrydag Potch toe. Die onder 16 A-span hokkie het ook maar sy eise. Joan is in Gr.9 en ook nou 'n koshuiskind. Benic is in Gr.1 en Carl is nog tuis. Pieter en Barbre sprei hulle vlerke ook wyer en sal vir 2jaar in Quatar woonagtig wees waar Megan (nou Gr.0) haar skoolloopbaan sal begin in 'n Engelse privaatskool. Michael is 3 en kan dus nog 'n bietjie wag. Maarten pendel tussen die Bosveld en Sannieshof, veral met die afgelope oestyd.
Jo Hoogenboezem Oupa Jo is nog gesond in Maart getroud met Rina. Dle kleinkinders tel nou 14 waarvan die jongste heet PIETER, van Hansie en Eldi, gebore op 20 Feb. 2001. Pieter en Trudie met Jana, Jo en Marli , boer nog op Vlieland by Vivo en het in April 2001, Ouma Marina se famllie in Nederland besoek, asook dle eiland Vlieland. Japie en Hantie met Jac, Ricus en die tweeling Su-Mari en Biemond, boer nog steeds op Buckingham by Tolwe. Op 12 JuIie 2001 het 'n groot tragedie die familie getref deurdat Hantie se enigste broer Hennie Griffloen op die ouderdom van 34 in 'n motorongeluk omgekom het. Human en AIet du Preez met Martie, Pieter, Johan, en Lizbe, boer op Kalkfontein naby Pietersburg. Op 24 April 2001 ls Hurnan se moeder op die ouderdom van 81 jaar oorlede. Reis julle ooit deur Pietersburg, besoek Human se nuwe FRUIT & VEG CITY! As jy kan Hoogenboezem verwantskap bewys, kry jy groente en vrugte teen halfprys! Hansie en Eldi met Jo, Anton, en Pieter, boer op Bulkop by Tolwe. Jo en Mariana van Japie en Mary is hul regterhand in die boerdery. Behalwe vir druiwe, sitrus en rnini pampoene spesialiseer hulle in die herstel van koeltrokke! Op 'n ernstige noot sluit ons af deur te erken dat die Here ook ons familie geseën en bewaar het deur hartseer en vreugde- Mag die Hoogenboezem familiefees van krag tot krag gaan!
Adri van Oudtshoorn. Ek woon in Oudtshoorn. (tel. 043- 7484170). Ek het 'n lekker groot tuin en twee woelwater kleindogters. Frits en Ilse is steeds in Zambië waar hulle sendingwerk doen. Hulle was pas vir byna 'n maand in S.A. nadat Michael, sy voetjies verbrand het op 'n ashoop. Ons is dankbaar om te sê dat hy weer kan loop. Kevin en Annemie Mizen bly en werk nog in Pretoria. Mieke is in die "grootskool" en dit gaan goed. Sy hou van perdry lesse. Kevin se seun Shaun, wat in Engeland woon was onlangs in 'n slegte ongeluk, dis 'n wonderwerk dat hy oorleef het. Die enigste permanenete skade , is aan sy een knie. Janine, ook in Engeland, het uitstekend gevaar in haar Julie eksamens. Alistair en Maretha Murray. Alistair werk by Pharmacare in Oos-Londen, en albei is nog gelukkig hier. Megan en Caitlyn hou hulle baie besig.
E. JOHANNES EN PLOON VAN TONDER
Oom Johannes van Tonder gais die afgelope jaar oorlede. Hy was 91.
Joh en Loekie het 'n kleinseun ryker geword. Sy naam is James Higgo Smit.
Leon en Adri. Met ons en ons kinders en kleinkind, gaan dit goed en het ons baie om voor dankbaar te wees. Jos en Arilia het die trotse ouers van 'n pragtige baba dogtertjie geword op die 28 Mei 2001. Klein Jeanne is 'n groot plesier vir haar oupa en ouma. Met Leon jnr en Alwyn gaan dit ook goed. Jammer dat ons die keer nie by die familiefees kan wees nie, maar groete aan almal en geniet dit. DV kan ons dit volgende jaar weer maak. Groete, Leon en Adri
Alwyn skryf: Liewe familie, jammer dat ek dit nie kan maak nie. Ek moet Saterdag werk in Ladysmith! Ek kan nie enige geleentheid om op te tree laat verby gaan nie, veral nie groot kontrakte nie. Ek is in die gees met julle.
Leon jnr. Skryf Dit is weer familiefeestyd! Weens werkverplig tinge (ons trek die hele departement na 'n nuwe gebou) en die feit dat een van my kollegas trou oor die feesnaweek, sal ek nie die fees kan bywoon nie. Ek vertrou die fees sal goed afloop. Groete Leon du Plessis (jnr)
Ons, Jos en Arilia, maak verskoning dat Ons nie die familiefees hierdie jaar bywoon nie. Ons kleinding is laas week ontslaan na 6 dae in die hospitaal vir oor en blaas infeksie. Alles is egter nou goed met haar en gaan ek ook Dinsdag 4 September terug werk toe (boe-hoe-hoe!!!). Jeanne Arilia du Plessis, die eerste kleinkind van Ma Adri se kant van die familie, is gebore op 28 Mei 2001, die dag voor Jos se verjaarsdag op 29 Mei. Elkeen is mos geregtig op hul eie verjaarsdag! Ek hoop julle fees geniet hierdie jaar 'n heerlike samesyn en hoor graag oor volgende jaar se fees. Groete
Jacob en Lydia de Raadt Liewe familie, Baie dankie vir die lewens teken en die boekie oor verlede jaar se familiefees wat ons 'n paar maande gelede ontvang het. Ja, die tand des tyds begin ons ook vang met allerhande skete wat ons vroëer net van gehoor het. Maar onder die seënende hande van onse Hemelse Vader gaan dit goed met ons en die uitbreidende familie. Ons het verlede jaar, dink ons, al die datums laat weet, seker betyds vir die nuwe uitgawe van die memoirs van Oupa Hoogenboezem. Ons woon nou al 10 1/2 jaar in dieselfde huis hier in Langley, en dis ons rekord. Ons hou telefoniese kontak met Oupa van Tonder op 'n gereëlde basis, en e-mail met Adri en Leon. Verder hoor ons baie min van Suid-Afrika. Ons vier kinders is almal uit die huis uit, as volg: Theo woon in Calgary, Alberta, in sy eie huis, en is nog ongetroud. Hy is die leier van die internasionale OpenBSD en OpenSSH groepe. Hy vlieg die hele aardbol oor, maar dis nie alles vir die komputersekuriteit nie, maar ook vir vakansies. Die werk wat hy doen, mag nie in die VSA gedoen word nie want dan word dit as "defence" geklassifiseer en mag nie uitgevoer word nie - dus werk hy maar van die huis af hoewel hy op die "pay roll" is van 'n universiteit in Philadelphia. Ons gaan volgende week vir hom kuier - (voor dit te koud word daar) - ons ry dan 'n dag of twee met ons bakkie en camper (dis presies 980 km ver) en by hom staan ons in die agterplaas. Ons het nog kennisse in Calgary want ons het mos 6 jaar daar gewoon. Plonia is nou al meer as twee jaar getroud met Brian Paetkau wat van Manitoba af kom. Sy verwag hulle eerste baba in Januarie, en dit gaan goed met albei van hulle. Hulle het Desember huis gekoop (hier in Langley, omtrent 10 km van hier af) en is goed aan die gang om dit te verbeter, hulle het 'n huurder vir 'n deel van die huis. Hierdie week voltooi Brian 'n klomp kaste in die dubbelgarage. Plonia werk halftyds by die hospitaal in Abbotsford as musiekterapeut, maar sy gee ook privaat musieklesse en terapie. Sara woon in Abbotsford (= 40 km oos van ons) en sy en die twee seuns Matthew en Anthony van 2 jaar) was vanmiddag hier. Dit gaan goed met hulle. Ons geniet om oupa en ouma te wees, en pas dikwels die seuns op. Joss en Michelle is nou ook al meer as 'n jaar getroud en is hierdie langnaweek na vriende in "Interior BC" toe. Hulle woon in 'n huis in Chilliwack wat omtrent 70 km hiervandaan is. Joss is 'n motorvoertuigkundige by 'n dealer vir die wêreld se grootste vervaardiger (dis nou General Motors) en het onlangs begin spesialieer op diesels en ratkaste. Michelle het haar tweede jaar op universiteit voltooi (Fraser Valley University College) en haar 3e jaar klasse begin hierdie week weer. Maar sy werk ook deeltyds by Safeway (kruidenier) O ja, en Joss help nou en dan by sy skoonpa met die melkery - die enigste "boer" onder ons hier. Jacob se ingenieurspraktyk gaan maar swakkies op die oomblik - ons het 10 jaar se sosialistiese provinsiale regering gehad en dinge is maar stil. Hy is kamma "semi-retired". Daar is darem nog dinge wat aan die gang is, en dit sal seker beter word met die nuwe BC Liberals wat ons ingestem het in Junie. Aan die ander kant, waarom sal ons so hard werk? Lydia het nog al die jare ons groentetuin behartig; ons eet jaar in en jaar uit ons eie goed. Ons het mos toe ons laas in SA was, pampoenpitte uitgesmokkel; skorsies groei hier baie goed maar nie boerpampoen nie. Ook bak sy baie lekker beskuit en dis seker die dat die kinders gereeld hier kom eet op Sondag. Lydia is ook 'n expert wat gesondheid betref, moes seker maar medies gaan studeer het vroeër - wie sou dit ooit kan glo. En dan natuurlik die waardevolle telefoonbron van advies vir die jong klomp. So- hiermee wens ons julle 'n baie aangename familiefees toe, in Oktober as dit weer lente is. Jacob en Lydia de Raadt en "extended family".
Chris en Martha van Tonder. By die van Tonders in New Zealand gaan dit heeltemal goed. Almal groei - as dit nie in lengte is nie, is dit in breedte, en dit is 'n teken dat dit goed gaan. Ons is almal geseënd met goeie gesondheid en geniet die pragtige land waarin ons woon nog elke dag. Chris het nog steeds sy eie konsultante besigheid van die huis af, en ek (Martha) help met die administratiewe deel daarvan. Verder hou ek myself besig met al die huislike dinge (en sonder huishulp is daar baie!), asook Bybellesse by die plaaslike laerskool, en ondersteuningshulp aan nuwe immigrante vanuit Suider-Afrika in die streek waar ons woon - die Hibiscus Coast, 35km Noord van Auckland. Ons is ook baie betrokke by die gemeentelike werk van die Reformed Church of the North Shore ; ons is besig met kerkbou, en ek dink dit sê alles. Ons gemeente is maar klein, in vergelyking met die Gereformeerde Gemeentes is SA, en ongeveer 40% van die gemeente is Afrikaans sprekendes. Die kinders vind so stadigaan elkeen hulle eie rigting: Hanno studeer Business Studies by Massey University, Noord van Auckland. Hy woon in 'n kommune saam met 6 ander studente, maar darem nog binne stap afstand van ons af in Red Beach! Louise het laas jaar gekwalifiseer as skoonheidsterapeut, maar wou toe nie direk voltyds daarin gaan werk nie. Sy werk op die oomblik deeltyds by 'n restaurant en probeer deeltyds 'n praktyk as skoonheidsterapeut by die huis opbou. Sy bly nog by ons. Marlene voltooi haar skoolloopbaan hierdie jaar (Year13) en die plan is om volgende jaar,2002, te gaan studeer (waarskynlik by Auckland University) in Beplanning. Dis so in kort die nuus van ons kant af. Ons hoop julle gaan almal 'n heerlike naweek deurbring as familie en wens julle baie Seën toe in die jaar wat voorlê!! Groete van die van Tonders in NZ.
G. JO EN FRIEDA HOOGENBOEZEM
Ma Frieda bly nog lekker in Mooigeleë oord. Sy is gelukkig genoeg dat haar suster, Tante Tillie, nou saam met haar kan bly. Die twee susters is die lewe van Mooigeleë en hulle vrolik die dae van die ander elke dag op. Ma Frieda is die entertainer en vermaaklikheidskunstenaar. Haar blommeruikers en rang- skikkings sorg ook dat elkeen in die oord spesiaal voel met elke verjaarsdag. Haar spitsvondige en pittige "one man shows" is iets wat jare by die lewens van die ander inwoners voeg. Met hul gesondheid gaan dit maar soos dit met die ouderdom gaan, maar verstandelik is altwee nog so helder en skerp soos wat kan kom.
Jan en Betsie, woon in Nylstroom in 'n sekuriteitskompleks. Dit gaan goed. Oupa Jan en Ouma Bets het 6 kleinkinders.
Jaap en Mary is steeds in Durbanville. Christelle, hul jongste, is nog in die huis en in Stellenberg Hoërskool. Sy hou die 'oues' nog jonk. Pat het na sy kursus by Tygerberg Kollege besluit om Engeland toe te gaan. Hy het eers aarbeie gepluk en daarna sekuriteitswerk gedoen in London. Op die oomblik is hy op die 4x4 trekkers op 'n baie groot plaas noord van London. Hy is in sy element. Lyk my boerdery loop maar dik in die Hoogenboezem bloed. Jo is begin Februarie met Marianna du Plessis getroud. Hulle boer by Hansie op Tolwe. Mary-Park en Stephan Latsky is nog op De Doorns. Stephan boer met druiwe in die Hexvallei. Mary-Park het 'n kleuterklassie. Die 2 kinders, Mischa, en Carle, is besig om vinnig groot te word. Jammer ons kan nie daar wees nie! Afstand kos geld. Groete & liefde aan die familie, Japie en Mary. Arie en Jeanette, Ons woon nog steeds in Pretoria . Christien die jongste het haar matriek verlede jaar baie goed geslaag en is ons dus klaar met skool. Sy swot Bio-mediese tegnologie. Mariska die oudste is terug in SA na 2 jaar in Engeland en geniet die son terdeë , Kon tot dusver nog nie werk kry nie, agv. regstellende aksie. Probeer nou `n eie werkskepping deur Afrika kunste oorsee te bemark. Arie Pieter maak hierdie jaar klaar as Meganiese Ingenieur en is ook besig om werk te soek solank, Tiaan, na `n jaar in Amerika (vir studiegeld), is 1 ste jaar op die PUK ook in die Meganiese Ingenieur rigting. Ons is dankbaar vir al die genade wat ons kry.
Paul en Daleen. Met ons, Paul en Daleen en kinders gaan dit goed en kan ons getuig van die HERE se seën oor die afgelope jaar. Ons woon steeds in Potgietersrus en boer in die omgewing met wisselende sukses met beeste. Daleen werk nog as admin beampte by die dienssentrum vir bejaardes en was deel van die span wat onlangs die baie gewilde KIERIEKLAPPER KUNSTEFEES op Potgietersrus aangebied het. Frits is besig met sy gemeenskapsdiens jaar by Jubilee hospitaal. Daar bly nou minder as 4 maande (2001) van frustrasie oor en hy oorweeg verskeie opsies. J.A is nou 2de jaar BSc.Ing.(Elektries) aan Tuks. Dala is in st.10. aan die Hoërskool Menlopark. Dit gaan goed met haar. Ons is dankbaar vir elke dag se gawes wat ons onverdiend ontvang. Groete, Paul en Daleen.
Isabel en Harko Met ons gaan dit op die oomblik baie goed. Henk is in gr.10. Jo is in gr.9 en Harko is in gr.6 en oefen kliphard vir die revue. Ten tye van die fees was Harko in Switserland. Hy was in Junie(2001) baie ernstig siek a.g.v. 'n gebarste blindederm. Dit was vir ons as gesin 'n baie swaar tyd, maar by nabetragting kan ons net getuig dat die Here vir ons baie goed was. Ons het in die tyd baie oor gebed geleer, en ook weer tot die besef gekom dat ons net vir mekaar geleen is. Ook het ons 'n baie kosbaarder skat as ons gesondheid leer waardeer: die wete dat selfs die dood nie meer verskrikking inhou as ons vrede met die Here het nie.
Pieter en Maarteli Met ons gaan dit nog goed. Maarteli bedryf nog steeds haar eie besigheid as binneshuise ontwerper. Tussen die dogters, haar werk en die daaglikse besoeke aan Mooigeleë bly sy baie besig. Dit is met dankbaarheid dat ons kan se dat Pieter nog werk by die Waternavorsings kommissie. Die transformasiedruk in die land plaas elke dag nuwe oorlewingseise aan elke blanke in die land en ook by die Water navorsingskommisie is dit nie anders nie. Met die twee dogtertjies, Frieda en Isabelle, gaan dit baie goed. Frieda is in Graad 2 en Isabelle in Graad 1 by Garsfontein laerskool. Hulle is kranige kunstenaars en ontwikkel voortdurend hul kreatiwiteit - gelukkig darem nie meer op die huis se mure nie! Frieda het in die jongste kunswedstryd ook reeds laat blyk dat die genetiese band tussen haar en haar Ouma nie toevallig is nie en het ook haar talent gewys in voordragkuns.
H. JOHAN EN AD GRIFFIOEN
Gerrit en Margaret. Dit gaan Ons sien julle hopelik volgende jaar
Adri en Francois de Villiers Liewe Familie, Na afloop van die familiefees van September 2000, het ons, aan die suidpunt van die land, gevoel ons wil ook darem 'n bietjie lekker saam kuier. Ons het toe gedurende Oktober 2000 'n Wes-Kaapse mini familiefees hier by ons aan huis gehou. Ons was 18 stuks bymekaar op Stellenbosch.
Teenwoordig was:
Die De Jonghs , Chris en Elsie, van Somerset Wes.
Die Hoogenboezems, Japie en Mary, van Durbanville, saam met hulle seun, Pat, en dogter, Christelle .
Die Griffioens, Co, en haar kinders Quirinne en Seppie Myburgh en hulle twee kindertjies, Benjamin en Liesje, en haar twee seuns Johan en Marcel.
En dan die De Villierse met ons drie kinders wat in die Kaap woon, Christo, Annemarie en Gerritjan. Die van Tonders, Joh en Loekie, van Stilbaai, wou graag kom, maar kon ongelukkig nie hier wees nie. Chris en Elsie se twee getroude Kaapse kinders, elk met twee klein kinders, kon ook nie hier wees nie. So daar is 'n hele spulletjie van ons hier onder - onthou ons maar as julle Kaap toe kom asb , en kom loer in! Dit was 'n fees en ons het gevoel ons wil dit weer doen. So, as ons weer bymekaar kom, en DV., almal is teenwoordig, tel ons al 32 mense. (miskien meer teen daardie tyd?) Met ons De Villierse gaan dit baie goed. Ons is uitgespaar en baie dankbaar. Die drie kinders in die Kaap het almal werk, en is gesond. Ons getroude kind wat ver woon is Adrienne, en dit gaan gelukkig ook goed met haar en haar man Hendri Warricker in Pretoria. Sien hulle net te min. Jammer ons kan nie vanjaar se fees bywoon nie - dis darem baie ver en duur vir 'n naweek. Sou graag daar wou gewees het! Anneke, baie dankie vir die groot werk wat jy doen om die familie bymekaar te hou. Hierdie jaarlikse verslag van al die Hoogenboezem afstammelinge beteken regtig baie. Maak asb vir jou 'n opvolger groot, en leer hom of haar na jou hand, dat dit nie platval as jy eendag miskien nie meer kan voortgaan nie. Baie groete van huis tot huis, Francois en Adri
Joop en Anita Alles wel met ons. Gonda het haar eie kaas fabriek begin met die naam van Gonda's Boerenkaas, maak alle soorte selfs Kumeine kaas. Sy kan skaars voorbly. Tanja is klaar met haar studies en werk in Midrand en doen Webwerf ontwerp.
Co Griffioen. Laas jaar, 30 Junie 2001, het Johan en Mona-Marè in die huwelik getree in Swellendam, en so het ons 'n liewe skoondogter en skoonsus bygekry. Hulle bly in Stellenbosch. Johan werk nog steeds by die afdeling "Beplanning en Ontwikkeling" van die Munisipaliteit, en doen verder baie tekenwerk in sy vrye tyd, dis nou vir nuwe huise of vir verbouings van huise. Mona-Marè is 'n dosent by die Isa Carstens skoonheidsinstituut hier op Stellenbosch. Met Quirine en Seppie en hulle 2 spruite gaan dit goed. Benjamin was al 4 jaar oud en Liesje word 3 jaar in Junie. Dit is altyd bedrywig daar, hulle is albei baie betrokke met die werk vir die kerk, Seppie natuurlik voltyds, en Quirine help met die kleuterbediening en sien baie van die gemeente se mense saam met Seppie, of hulle onthaal hulle sommer by die huis. Marcel het sedert September werk gekry by die Universiteit, by Informasietegnologie se "Helpdesk", waarvoor ons die Here baie dankbaar is. Tenminste doen hy nou ervaring op en leer sommer nog baie dinge by, oa. om met baie ongeduldige mense te werk, nie aldag so lekker nie! Ekself werk nog steeds as sekretaresse/boekhouer by ons kerk en die werk word net meer, maar ek geniet dit. Ek hoop om DV in Julie weer naar Holland te gaan, beide my ouers leef nog. My Ma het Altzheimer en is al vir jare in 'n tehuis waar sy baie mooi versorg word, maar sy ken al lankal niemand meer nie, en praat ook nie, dit is maar hartseer om te sien. My Pa is al 91 en nog redelik aktief. Groete, Co Griffioen
Maarten en Emmie Liewe familie, Ongelukkig moet ons gesin verskoning maak vir vanjaar se fees, maar julle word egter almal
namens die GRIFFIOENS hartlik uitgenooi na VOLGENDE JAAR SE FEES DV OOK BY KLEIN KARIBA, OOR DIE NAWEEK VAN DIE 11/12 OKTOBER 2002. Die nuus vanuit ons kraal:
Met Maarten en Emmie gaan dit nog baie goed. ROWAN is vanjaar 'n siviele ingenieur by Group Five Roads Africa en is tans werksaam in die noorde van Mosambiek - geen pos, geen fone, geen taal of tyding. Ons vertrou dat dit goed gaan. EBEN is tans 4de jaar BSc Landbou student in Stellenbosch en geniet die lewe in die Kaap, terwyl CARIN in matriek is. - sy is verkies tot die leerlingraad van Hoerskool Noordheuwel vir 2002. COR het vanjaar sy Graad 9 jaar by Helpmekaar Kollege begin en hulle rugbyspan het sommer afgeskop as wenners van die Beeldtrofee vir klein skole in die Goue Leeus afdeling. Baie groete aan al die feesgangers en hoop om julle volgende jaar weer te sien. Geniet die dag!! MAARTEN EN EMMIE GRIFFIOEN
Ria en Gerhard van Wyk Ons wil verskoning maak dat ons nie daar kan wees nie. Met ons gaan dit baie goed behalwe vir die leë huis sonder kinders. Met dankbaarheid teenoor die Here kan ons die volgende nuus bydrae lewer: Adriana en Bert woon en werk nou in Holland, Limburg Provinsie. Hulle is tot dusver baie gelukkig en geniet die land van ons voorvaders, maar verlang alreeds na die oop ruimtes van RSA.!!! Riaan is op die oomblik in Uganda besig met vryskut TV kamera werk. Die werk hier is maar skaars. Griffel op Potch, sudeer Teologie, amper halfpad na die eindpunt toe.
Van Bert en Adriana Pouwels self so reg uit Nederland: Hallo alle familie, neefs, niggies, ooms en tantes! Ongelukkig kan ons nie hierdie jaar die familie-fees bywoon nie, ons sit op die oomblik 'n bietjie ver oor die see. Ek en Bert het aan die einde van verlede jaar besluit om 'n rukkie in Nederland te gaan woon. Bert het 'n Nederlandse paspoort en omdat ons getroud is, kon ek 'n verblyfsvergunning kry. Bert werk by Deloitte & Touche, Venlo waar hy 'n assistent rekenmeester is. Hulle het hom die opsie gegee om deur hulle te gaan studeer en ons het besluit dat hy nie so 'n kans kan laat verby gaan nie. Die kursus duur 3 jaar, so ons gaan in elk geval 3 jaar hier woon. Ek werk nou op kantoor by die uitzendbureau (personeelsagentskap) deur wie ons na NL gekom het. Dit was nie die oorspronklike bedoeling nie maar omdat daar nog 'n paar probleme met my papiere was, het ek myself maar daar besig gehou. Ek hou egter nou so van wat ek doen, dat ek nog 'n rukkie by hulle wil werk. Ek kry dan ook die geleentheid om my "Hollands" beter oor die tong te laat rol. Ek het dan ook tyd om vir 'n kursus te gaan waar ek die grafiese ontwerp programme wat hulle hier gebruik te leer. Ons woon in 'n baie klein dorpie Arcen, net noord van Venlo. Dit is geleë in die provinsie Limburg. Limburg is die mees suid geleë provinsie van NL. Die Duitse grens lê net 'n paar kilometers van ons af en het ook dadelik 'n kenmerkend anderse gesig. Die hollanders hier praat dus ook Nederlands met 'n Duitse klankie wat soms moeilik verstaanbaar is. Dit is wel "even wenne". Ons is lid van die Gereformeerde Kerk Vrijgemaakt in Venlo. Dit is baie (98%) soos ons Gerf. kerke in SA. Ons het al lekker ingeskakel en kry nog elke Sondag koffiedrink uitnodigings. Die kerkie het maar 98 lede en het eers onlangs 'n eie dominee gekry. Die suide van NL is mos maar meerendeels Katoliek. Dit beteken ook nie meer veel nie, want so baie mense hier sê "Ek is Katoliek" en in dieselfde asem "maar ek gaan nooit meer kerk toe nie". Hier is dus baie geleenthede om ons lig te laat skyn, al is dit net deur 'n voorbeeld te wees. Ons is baie geseënd en ons beker loop behoorlik oor. Ons woon in 'n oulike "bungalow" op 'n vakansiepark - heeltemaal gratis. Ons het ook 'n karretjie tot ons eie beskikking en het maar 70 km op die klok gehad. Dit is 'n Toyota Yaris 1000 en ons rits die wereld vol in hom. Dit was natuurlik ook 'n storie om gewoond te raak om aan die verkeerde kant van die pad te ry en dan nog aan die verkeerde kant te sit ook! Nou ja, as enige iemand in ons rigting kom, is julle meer as welkom om langs te kom. Die tarief, moet ek vooraf waarsku, is natuurlik 'n bottel Cross & Blackwell mayonaisse / 'n bottel Mrs. Balls of sout en asyn chips! Dit is nou artikels wat ons nogal mis hier. Ons hoop dat julle die dag geniet en mekaar waardeer. Groetjes! Bert en Adriana Pouwels (Van wyk) (Griffioen-tak)
Rentia en Kees van DooreneEk werk nogsteeds vir Culterra en Rentia is ook nog doenig met haar werk by 'n Prostedontis, Dr. Tuit in Randburg, waar sy assisteer. Ons oudste seun Corné werk nog by die Spur in Newcastle. Hy is een van die bestuurders daar en het al 'n paar kursusse in verband met bestuur van die restaurant voltooi. Hy is ongeveer al drie jaar daar. Ons oudste dogter Jeanette bly nog by ons in die huis en werk by Fanél Glassware, 'n besigheid wat glas invoer en restaurante voorsien van al hulle eetgerei en glase ens. Sy het in Augustus 2001 'n ander werk gevind en werk nou huidiglik by 'n maatskappy op Lanseria lughawe. Mathilda, ons student in die gesin, gaan ook goed aan. Sy studeer Bedryfsielkunde en voltooi haar tweede jaar in 2001. Adri, ons jongste skryf matriek in November 2001 en dan is al ons kinders uit die skool!!
Groetnis Case & Rentia van Doorene
I. PAUL EN LYD HOOGENDYK
Tant Lyd. is nou so tuis in Huis Eikelaan Potchefstroom soos 'n vis in die water. Met haar gesondheid gaan dit bolangs goed maar by die voete nie so goed nie. Sy is baie geseënd om op 84 nog in haar tuin te kan werk, haar eie huishouding waar te neem en vir funksies en begrafnisse die fynste toebroodjies te kan maak. Hou so aan moeder, u stel vir ons 'n pragtige voorbeeld van blymoedigheid en geloofsvertroue.
Chris en Jana. Met ons gaan dit goed. Gedurende die jaar het Pieter en Lydia Uys op 7 Maart 2001 ouers geword van 'n pragtige dogtertjie, (wat na haar ouma vernoem is) en ons dus oupa en ouma. Pieter en Lydia werk in Johannesburg en woon in Sunninghill. Met Johan, ons seun, gaan dit goed. Hy is 'n toergids en reis die hele Suidelike Afrika plat. Hierdie naweek is hy juis met 'n toergroep by die Victoriavalle. Hy geniet sy werk baie.
Frits en Magda Ons kan net van soveel genade getuig vir ons en ons kinders. Daar was 'n aansienlike aanwas; 'n kleinkind, 'n skoonseun en twee verlowings, dis 21/2 skoondogters. Dawie en Wiida het gesorg dat oupa Frits en ouma Magda 'n dogtertjie kleinkind ryker geword het. Met Dawie se sleeperbesigheid gaan dit baie goed. Ons ander seun Paul is verloof aan Jaqueline Blaucquire en hulle trou DV die 13 de Oktober 2001-Jaqueline se verjaarsdag. David en Lydia bly op Carltonville - Lydia het 'n pos as verpleegsuster in die hospitaal van Carltonville en sy voel sy leef haar uit in die beroep. Dit gaan nog goed met David se winkel maar sy hart trek na die boerdery. Magda, die jongste, wat almal dink nog kind moet wees, het die 30 ste Augustus 2001, 21 geword. Pa en Ma geniet die tydjie nog met 'n dogter in die huis. As alles goed gaan sal sy vanjaar haar B.Comm graad in Informatika kry. Sy wil dan haar honneurs in Risiko-bestuur voort sit. Beide Paul en Kerneels werk nou by Frits en Johan.
Johan en Marietjie Deur die genade van ons Hemelse Vader gaan dit goed met ons gesin. Johan is baie besig en met die besigheid gaan dit goed. Marietjie het haar ouma van 98 jaar en twee weke later haar pa van 80 jaar verloor. Ons is dankbaar dat ons hulle so lank kon gehad het en vir hulle gesonde lewens asook goeie voorbeeld van geloof en dankbaarheid wat hulle ons nagelaat het. Met ons oudste, Paul, gaan dit goed. Hy bestuur die tak in Bethlehem (Satim) en met sy MBA studies gaan dit ook sover baie goed. Alwyn is tans met 'n 5jaar werkvisum in London en werk vir 'n beplanningsfirma waar sy praktiese 2jr vir Stads- en Streeks beplanning in sy guns sal tel. Hy het aangesluit by die Presbatarian Church of Scotland - dit is blykbaar dieselfde as ons Gereformeerde kerk. Johan is tans met sy laaste jaar B.Comm. besig en besluit nog of hy volgende jaar verder wil spesialiseer. Dit gaan met hom en sy meisie Elize Breedt baie goed. Annemarie is in haar 3de jaar in grafiese ontwerp ook op die PU vir CHO. Dit hou haar baie besig maar sy geniet dit. Mauritz is in gr12 en sing in die koor, speel tennis, tafeltennis en muurbal.
Paul en Jean Wel, met ons hier in die V.S.A . gaan dit regtig baie goed ,en ons gee graag net so n bietjie inligting oor ons hier in Amerieka. God het ons reiklik geseen met goeie gesondhied en wonderlike geleenthede om te werk en heel belangrik vir ons is ons kerk nl. Saint Andrews Presbyterian Church, waar Jean baie hard werk met die susters vereeniging asook "Vocation Bible
School" .Ek is ook bevooreg om vir die laaste 6 jaar op die kerkraad te wees, ma Lydia en my broer Johan & en sy vrou Marietjie was hier by ons in November 2000 en het ook ons kerk besoek Ek en Jean het n Apteek en kliniek. Party dae gaan dit goed en ander nie, maar vir die meeste gaan dit darem nog goed en doen ons dit al vir die laaste 4 jaar. Met al ons kinders gaan dit volgens ons goed ,alhoewel hulle party keer nie so dink nie. Jean se dogter Jeannie bly by ons en is n plesier om by ons te he". Paul bestuur vragmotors reg oor die groot vlaktes van amerika en ons sien hom so elke 14 dae. Lydia en Jan kom weer hier by ons kuier die middel van die jaar, ons sien vreeslik daarna uit en ons hoop om in R.S.A. te kom vir 14 dae of so naby die einde van die jaar. Groete aan almal ,hoop van julle kry geleentheid om hier te kom kuier, ons deur is altyd oop
Paul & Jean Hoogendyk.
Willem en Isabel Ons boer nog met tweebeen skape in Welkom. Wimpie is eerste jaar aan die PU vir CHO. Hy bly in Patria manskoshuis. Lydia is in gr.10 en neem deel aan als onder die son. Paul is in gr.6.
J. CHRIS EN BESSIE HOOGENBOEZEM
Tannie Bessie Woon nou in 'n ouetehuis in New Castle "La Gratitude" Sy het verskoning gevra dat sy nie die fees kan bywoon nie.
Johan Johan Hoogenboezem is getroud met oorlede Anna se suster, Fransie, op 7 Julie 2001. Fransie het drie kinders, Annie, Hannes en Paulus. Johan en wyle Anna se seun, Hanno en Carmen het hul eersteling , 'n dogter , ryker geword. Johan het nou vier kleinkinders.
WA en Annatjie het verskoning gevra dat hulle nie die fees kan bywoon nie. Chris + Antroinette vra ook verskoning. Hulle is besig om te verhuis na Empangeni. Chris help met die nuwe aanleg van Yskor -- swaar metale. Liezel van Niekerk is op 6/1/2001 getroud met Shane Lowery
Fanie en Lieb liewe familie, hiermee maak ons as gesin verskoning dat ons nie die fees van 2001 kan bybring nie. Hier is egter so bietjie nuus. Met ons, Fanie en Lieb gaan dit goed en ons verouder soos rooiwyn,ons twee seuns Theo en Chris is op die oomblik in Gr.12 en 10 en met sport en akademie besig. Adrian en Ilze is nog steeds in Piscataway NJ werksaam en al wat daar op die oomblik pla is die ontsettende hittegolf wat hulle beleef en saam met die ander Amerikaners moet uitstaan. Steve en Marga het hulle in Wellington NZ gevestig en gaan nou vir die eerste keer in hulle eie huisie intrek en as die Allblacks en Springbokke teen mekaar speel moet die twee maar redelik selektief wees met kommentaar om die vrede te bewaar. Geniet die dag en mag elkeen wonderlik geseënd wees. Fanie en Lieb Wessels Ficksburg.
Ockert en Christa Liewe Familie, Dankie vir die uitnodiging. Ons sal dit egter nie kan maak nie, aangesien ek op daardie stadium oorsee gaan wees! Groete en sterkte met die reelings.
Familienuus soos vertel deur elke individuele familie self.
saamgestel deur:
Anneke