Nuus

Familienuus tot Oktober 2000            click hier om die Notule van die vergadering te sien

A JAAP EN ALIE HOOGENBOEZEM
Bets Hoogenboezem Bets werk nog een strook deur en sy dink nog glad nie daaraan om af te tree nie. Sy was reeds 66 jaar oud. Met Erika en Lida en hulle gesinne gaan dit goed. Erika en Jacobus gaan eersdaags huisbou. ..en dan begin die kopsere!! Manna en Cornel bly en werk in Durban. Hulle het reeds die afgelope vakansie bietjie kom uitspan op die familieplaas in Greylingstad.
Theuns en Rina Hoogenboezem
By Jordaanstraat 22, sal jul ons twee oues kry
Net so skuins onder Heidelberg se Pick 'n Pay
Deur genade is ons darem nog bymekaar
In 'n 'struggle' met die millenium jaar...
Waterwerke is maar steeds 'n groot probleem
Amper het dit ons van die fees vervreem
Met al die kinders gaan dit 'touch wood' nog wel
Kleinkinders kan ons al tot agt tel
Die nuutste toevoeging was Vanessa
Prinsessie in Leon en Ida se nessie
Dis goed om weer tussen julle te wees
Op ons Klein Kariba Millenium fees.

Chris en Elsie de Jongh Dankie vir al die briewe en familienuus. Ons waardeer dit en geniet dit om al die nuus te lees. Ons kan ongelukkig nie familiefees toe kom nie weens verskeie faktore. Ek gaan Sept in vir 'n operasie aan my ander arm...sal vir 'n rukkie uit aksie wees. (So haak mens maar met die jare uit) Ons familie is dankbaar om te kan se dit gaan goed. Miskien kan ons Japie-kind ons verteenwoordig by die fees. Johan en Monét geniet hulle twee kleingoed baie. .....so ook Chris en ek!!! Dis vir ons wonderlik om so naby die kinders te woon. Bertie en Alida verwag hulle tweede outjie in Desember. Hulle seuntjie praat van "sy babatjie". Almal is vol in die werk en hoop om Desember 'n bietjie te kan uitspan. Chris doen hier en daar lokum werk en daarna rus hy weer 'n bietjie...maar is goed aan die gang. Ons dink so baie aan julle . Geniet die fees en groete, Chris en Elsie de Jongh.


B. HENK EN BETTIE HOOGENBOEZEM
Johannes en Marietjie Marietjie het in Julie 70 jaar oud geword....maar sy kan nog goed skop. Sy sê mos gereeld vir ons...alle wit perdeis nie ou perde nie. Met Johannes is dit net andersom...hy was op 22 September 70 jaar oud...kan eintlik nie meer skop nie...alhoewel, hy sê hy hardloop al amper weer met 'daai' been. Hy is nou nie meer hééltemal goed vir die ama-kroko-kroko nie. Marelise van Roly en Anneke begin Maandag met haar matriek eindeksamen. Die matriekafskeid is verby en die 'afterparty' waaroor ons nou al 18 jaar lank bekommer het, het ook gelukkig sonder voorval verloop. Twee van haar klasmaats het reeds vroëer vanjaar in 'n gruwelike motorongeluk gesterf. Dit was vir die al die maats 'n ontsettende skok. Terloops...kan julle sien hoe vinnig gaan die jare verbyen hoe vinnig word ons almal oud...Marelise, wat die oudste van die vyfde geslag is, verlaat vanjaar die skool. Sy wil volgende jaar gaan hokkie speel in Australië... , andersins sal sy seker RAU toe gaan. Henk en Mari het altwee vanjaar by die "naughty fourties" aangesluit. Wiekus volg volgende jaar en Lize die jaar daarna. Hannes (van Henk en Mari) is volgende jaar sy laaste jaar op laerskool. Dan is dit met hom ook die begin van sy hoërskool loopbaan. Met die ander kinders en kleinkinders gaan dit almal goed. Hendrik is die 'happy-go-lucky' ene. Hy is besig om die meisies te 'eye'. Herman en Frederik is nou altwee in die grootskool...graad 2 en graad 1 onderskeidelik. Frederik geniet dit nie aldag nie. Verder werk almal gelukkig. Met Willemien en Henda gaan dit ook goed...en o-ja ....almal is so opgewonde...., Basie is van middel November weer terug in die land van "melk en heuning"...of is dit nog?...hy sal ook sê hy kan hom nie roer nie, dan gaan die land ten gronde. Hy sal van nou-af by die Bonsmara telersgenootskap in Pretoria wees. Basie en Charmaine beplan om op 15 November in die huwelik te tree. Charmaine is in Zambië gebore en het daar groot geword. Sy is bereid om haar ma en pa en susters en hulle families in Zambië agter te los en saam met Basie na Suid Afrika terug te kom. Dis nogal 'n "tall order". Henda is op die oomblik in Sedgefield besig met kursusse in eko-toerisme. Sy werk vir "Outward-bound". Gelukkig kom die Desember vakansie vinnig nader sodat almal bietjie kan rus.
Renier en Anna van Emmenis. Ons is nou tuis in die meenthuis en Renier is nou die tuinier wat alles om ons huis reghou. Johan en Elma is nog op Bloemfontein. Hulle dogtertjie Madeli is op 18 Oktober 1999 oorlede. Sy was 6 jaar en 10 maande. Dit is nou omtrent 'n jaar gelede. Elma hou skool by St Michaels en Anneen is baie bedrywig met sport en musiek ens. Rinus is ook nou amper twee jaar oud. Bennie en Marna woon nog in Potch en werk steeds by Denel. Jean-Pierre is die jaar in Gimmies en speel ernstig krieket. Aliana is in graad vier en is gekies om Wes-Transvaal te verteenwoordig inAkrobaat. Louis en Marietjie is nog in Randburg. Marietjie werk by RAU en dit gaan heelwat beter met Louis se gesondheid.
Ina hoogenboezem Ina is steeds op Potch . Dit gaan goed met haar. Fanie en Carin is in Pretoria. Fanie werk met geografiese inligtingstelsels.(GIS) Hy teken kaarte vanaf satellietbeelde. Carin merk werkstukke vir Technikon SA. Michael is in gr 5 en bly die boekwurm in die huis. Ina , in gr 3, geniet skool vreeslik baie. Schalk (5jr) geniet sy fiets die meeste van alles. Henk en Roline is in Pretoria. Henk is projekbestuurder vir 'n rekenaar- maatskappy en Roline 'n dagmoeder vir babas. Annemarie is 5 jaar oud en Schalk is 18 maande. Douw en Marianne bly op Potch. Douw bemark Bizzrall en Marianne doen deeltydse werk by die PUK. Bernard en Tjaart is twee goeie sportmanne. Jeanne is nou al 4 jaar oud. Schalla en Lieschen is nog op Vivo - hy boer vir Pieter. Lieschen werk in die kantoor. Na-ure gee sy ekstra klasse vir die skoolkinders van die omgewing.


C. PIET EN GER SCHOLTEMEIJER
Jan en Rina is teeds besig met komkommers Hulle seun Pieter sê, Jan en Rina lyk nou soos twee 50-jarige - 60-jariges. Blykbaar die skoon lug wat hulle daar inasem en die harde lekker werk.
Bennie en Adrika geen nuus
Rieks se gesondheid keil haar sleg op en sy gaan algaande agteruit. Sy het nou feitlik alle gebruik van haar hande verloor a.g.v. arteritis
Johannes en Antjie geen nuus
D. PIET EN EVELYN HOOGENBOEZEM.
Tant Evelyn het afgetree en bly in 'n "aftreeoord" by die kinders. (die beste van twee wêrelde...aldus Johan Hoogendyk.) My telefoonnommer is nog dieselfde (016) 349-6361, maar die adres het verander na Posbus 310, Heidelberg, 1438. Ek moet eersdaags gaan sodat dokters aan my oë kan werk, of dit 'n operasie sal wees moet ons nog sien. Verder sukkel ek baie met my rug en verduur baie pyn - maar ek kan nog goed "ballet" saam met die voorskoolse kinders..!!! en baie praat..!!! My kleinkinders maak my gek...hulle raak te slim...al dies op universiteit, hulle tel 4. Ek het 13 kleinkinders en 1 agterkleinkind.
Ben en Corrie van Wyk. Die jare hoop op en ons is nou met ons komende verjaarsdae 65 jaar oud.. Ons gesondheid is gelukkig nog goed. Met Eben en Marian gaan dit ook goed. Eben het so 'n ligte 'mishap' gehad - al 4 sy voortande met 'n/sy slinger uitgeslaan en nog sy kakebeen ook gebreek (tannie Corrie het hier 'n 'mishap' gemaak en ipv 'n slinger, skryf sy, sy slinger). Dit kon 'n baie slegte nadraai gehad het. Met die genade van Bo was dit nie in sy oë nie. Suzan is tans in Nederland as uitruilstudent vir 2 maande - sy geniet dit om te fiets skool toe. Joan is nou laaste jaar in die laerskool. Benic(5) en Carl(3) bly maar vol dingetjies. Pieter en Babré hoop om een van die dae na 'n huis met sy eie erf te trek-nog steeds in Clubview. Pieter het sy vinger in 'n biltongsnyer gehad. Hulle het twee kinders Megan(5) en Michael(3). Maarten boer nog alleen. Hy het pas met 'n slaghuis begin. (Die familie het opgemerk dat hy 'n meisie vandag by die fees gehad het...ene Helen...lyk vir my maar baie na Karin van 'Egoli'). Die lekker reën wat oor Gauteng uitgesak het, het ons gemis en die stofstorms sal ons seker nog teister....soos Johannes sê....dit ís mos Stannistof!.
Jo Hoogenboezem sê dit gaan met hom goed...so goed soos wat dit met 'n boer kan gaan. Met al die kinders gaan dit goed...Hy het nou 14 kleinkinders en dit lyk hy's los voor. ("die familie wil graag weet ...is dit nou die "new potatoes"waarvan ons deesdae so baie hoor?)
Adri van Oudtshoorn. Dankie vir die uitnodiging na die familiefees. Ek kan ongelukkig nie die fees bywoon nie. Ek het pas getrek en is nog nie lekker 'gesettle' nie. Frits en Ilse woon op die oomblik in Zambië. Allistair en Maretha het 'n dogter op 1 Oktober 2000 ryker geword. Kevin en Annemie woon steeds in Pretoria. Mieke gaan volgende jaar 'groot' skool toe.


E. JOHANNES EN PLOON VAN TONDER
Oom Johannes van Tonder word op 26 Desember 2000, 90 jaar oud. Alhoewel sy verstand helder is, is sy gesondheid swak. Hy is in Fleurenville waar hy 24 uur versorging kry. Hy is nie meer in staat om die familiefees te kan bywoon nie. Chris kom spesiaal van NZ vir die geleentheid van Pa Johannes se 90ste verjaarsdag, alhoewel hy en Martha albei op verskillende tye oor die afgelope jaar op besoek aan Pa was.
Joh en Loekie bly nog steeds in Suid-Kaap by Riversdal, alhoewel hulle die plaas aan die voet van die Langeberge moes verlaat a.g.v. die agressiewe verspreiding van Joh se velkanker...'n boer kan mos nie uit die son bly nie! Jaco en Estelle woon steeds op Schoemansville by Hartebeespoortdam. Jaco het ook 'n plasie by Mooinooi waar hy groente verbou en verkoop. Lucas is nog ongetroud en bly in Parkmore. Hy is 'n advokaat. Cato en Jamie woon op Andrieskraal naby Patensie. Jamie vertel vir die boere van al die landbou chemicalieë wat hulle benodig en verskaf dit aan hulle. Andrieskraal is aan die beginpunt van die Baviaanskloof, 'n ongelooflike mooi en ongerepte natuurreservaat met 'n ruskamp te "Geelhoutboom". Cato het haar eie agentskap nl. Baviaanskloof Eco Ventures begin. Kontak haar vir 'n 4x4 roete of enige toerisme navrae in die omgewing. Tel (042) 283-0718. Plonia en Hugo bly in Coronation, 'n ou myndorp naby Vryheid. Hugo is vennoot en mede-eienaar van die dorpie wat hulle maatskappy ontwikkel en bemark. Hy is ook 'n prokureur op Vryheid. Goedkoop behuising of plek om 'n fabriek op te rig: (034) 969-2761.
Leon en Adri. Met ons en ons kinders gaan dit goed. Leon jnr het sy M-graad voltooi en 'n aanstelling in Kwa Zulu Natal aanvaar as Hoof, Sielkundige-dienste, van die Polisiediens in KZN. Hy woon nou in Amanzimtoti. Jos en Arilia gaan ons oupa en ouma maak in die nuwe jaar. Hulle en ons is baie opgewonde oor ons eerste kleinkind.
Jacob en Lydia de Raadt Lydia hulle se jongste seun, Joss, is op 18 Augustus 2000 getroud met Michelle Les.
Chris en Martha van Tonder. Chris is nog steeds baie besig in sy eie beplanning-saak. Martha werk ook in die saak. Hanno, die oudste is op Universiteit, Louise volg 'n diploma kursus en Marleen vorder uitstekend op skool.


G. JO EN FRIEDA HOOGENBOEZEM
Tant Frieda en haar suster Tant Tillie woon saam in Mooigeleë aftreeoord. Sy verkies nog steeds die gesproke woord bo die geskrewe. Trotse grootouma van 6 agterkleinkinders en ouma van 22 kleinkinders.
Jan en Betsie Ons het op 1 Desember 1999 na Bosveldsig te Nylstroom verhuis en in die pragtige Bosveld kom aftree. Ons woon hier rustig en veilig en geniet dit terdeë, alhoewel ons ons steeds oor 'n mik werk. Betsie skryf die een boek en kortverhaal na die ander in 'n poging om die ongenaakbare redakteurs te oortuigom dit te publiseer. Ten spyte van die naderkruipende ouderdom en swakker gesondheid, gaan dit met ons baie goed. Ons kinders Johan en Ronel en kleinkind Susan is baie bedrywig en kon weens ander verpligtinge nie vandag teenwoordig wees nie. Chris en Annelie en hulle drie seuns Werner, Dewald en André: Die jongste, André, is op 9 Julie 1999 gebore en sover die soetste van al ons kleinkinders. Met Chris gaan dit sover goed terwyl hy darem weer 'n bietjie gewig opgetel het. Hy werk egter baie hard en is huidig omtrent voltyds op diens en kon dus ook nie hier wees nie. Frits, Helené, Armand en Lize-Mari: Hulle dogtertjie, Lize-Mari, is op 8 Augustus vanjaar gebore en dit gaan baie goed. Sy word hierdie naweek (15/10/2000) gedoop en ons is op pad soontoe.
Jaap en Mary is Kapenaars in Bellville. Mary sukkel bietjie met haar gesondheid maar andersins gaan dit goed. Mary-Park en Stefan Latsky woon gelukkig op hulle plaas. Hulle tweede kind Jo, boer vir Hansie Hoogenboezem op Tolwe en hy trou volgende jaar Februarie met die meisie van sy drome.Hul derde kind Pat, studeer in die Kaap en Christelle is nog op skool.
Arie en Jeanette Ons bly steeds in Pretoria. Dit gaan met ons familie goed - geen klagtes nie. Ons oudste dogter Mariska, is steeds in Engeland - geselskapsdame vir 'n 'lady' van 92 jaar. Sy woon op 'n landgoed in 'n huis wat skrik vir niks. Ons tweede Arie Pieter is steeds op PUK, meganiese ingenieurswese, hy's volgende jaar in die pylvak,...Tiaan is in Amerika, die Amerikaners se mielies gestroop van Oklahoma, Kansas tot bo in Montana, weer terug tot in Texas. Hy het so vinnig gestroop dat die werk opgeraak het en nou werk hy op 'n perdeplaas noord van New York City. Hy sal volgende jaar inval op die PUK in meganiese ingenieurswese. Christien-in matriek-sal waarskynlik volgende jaar of die jaar daarna begin met B.Sc. Menslike Bewegingkunde.
Paul en Daleen. Paul het 'n pakket geneem by vleissentraal. Hy is nou 'n boer en sakeman. Frits het sy studies voltooi en is reeds met 'n volgende kursus besig. Hy skryf reeds Maandag sy eerste eksamen. Dala is in st 8 en J.A. in Matriek.
Isabel en Harko Liewe familie, baie dankie vir die uitnodiging na die fees. Ons sal ongelukkig nie hierdie jaar kan bywoon nie. Ek het onlangs skielik weer begin skoolhou na 15 jaar en dit voel nog asof ek net Saterdae opkom vir asem.Later sal dit hopelik beter gaan maar ek moet juis in daardie komende week al my vraestelle vir 4 standerds inhandig. Ek is nietemin baie dankbaar vir die geleentheid om so betrokke te raak. Dit gaan met ons baie goed. Harko(snr) is nog gelukkig om steeds vir Sasol te werk. Henk beleef sy eerste jaar in die hoërskool. Volgende jaar sluit Jo hopelik by hom aan. Dan moet Harko nog 3 jaar alleen in die laerskool deurbring. Die Here het ons besonder geseën in die afgelope jaar en ons eer Hom daarvoor. Ons hoop julle geniet 'n aangename fees. Harko, Isabel, en kinders.
Pieter en Maarteli woon in Pretoria. Maarteli doen nog steeds binnenshuiseversiering en wag nog op haar "groot" kontrak. Pieter is nog steeds by die Watervoorsieningskommissie. Sy groot probleem as personeelbestuurder is die "Employment equity" maar hy sit gelukkig aan die regte kant van die stuur. Maarteli begin besef wat die veeleisende taak van moeder is - die aanry, die terugry, die wag en die aanmoediging. Frieda is volgende jaar in graad 1 en Bella in graad o.


H. JOHAN EN AD GRIFFIOEN
Gerrit en Margaret vra verskoning dat hulle nie die 'fees 2000' kan bywoon nie - sou baie graag daar wou wees - werksomstandighede weerhou hulle. Johan is verloof aan Cherie. Charl en Anneke werk by Culterra. Charl doen sy doktorsgraad in ontginning en rehabilitering van veenlande. Lee en Billy se dogters is in graad 2 en 2 jaar oud onderskeidelik.
Adri en Francois Christo is nou vennoot en 'n arbeidsreg- konsultant in die Kaap. Adriënne en Hendri Warricker woon en werk in Pretoria. Annemarie woon en werk as onderwyseres in Durbanville. Gerritjan is steeds student op Stellenbosch
Joop en Anita is gesond en woon in Helderblom - wes van Krugersdorp. Gonda en Fanie du Plessis woon langs Joop en Anita en is baie gelukkig. Tanya is besig om haar studies te voltooi in die rekenaar 'webwerf-ontwerp' bedryf.
Co Griffioen. Co is op die oomblik in Israel vir 2 weke. Sy was ook in Holland vir haar pa se 90ste verjaarsdag. Quirine en Seppie het nou ook Stellenbosch toe getrek. Seppie is 'n jeugpastoor. Quirine het 'n dogter op 15 Junie 2000, Liesje, sussie vir Benjamin. Johan is steeds werksaam by Stellenbosch Munisipaliteit by die afd. Beplanning en ontwikkeling-hy doen baie tekenwerk in sy aftye. Marcel studeer nog tot die einde van die jaar. Hy is nou besig met "web-page design" en programmering. Ekself(Co) is as sekretaresse werksaam by die kerk.
Maarten en Emmie Rowan is tans finale jaar student in ingenieurswese en hoop om volgende jaar sy meestersgraad te doen. Eben studeer in Landbou op Stellenbosch. Caren is in graad 10 Noordheuwel. Cor is die laaste jaar op laerskool en is onderhoofseun by sy skool Laerskool Kenmore.
Ria en Gerhard Adriana en Bert woon en werk in Pretoria. Riaan woon tuis en is 'n 'freelance' kameraman - o.a. vir Crux wat Sondagaande uitgesaai word. Griffel is 2de jaar teologiese student op Potchefstroom.
Rentia en Kees Ons oudste en enigste seun Corné woon en werk in Newcastle as bestuurder by die 'Spur'. Hy is 24 jaar oud. Jeanette(22) woon by ons in Muldersdrift en werk by Fanél Glassware as kantoor-assistent. Mathilda studeer bedryfsielkunde by RAU en is tuis in die koshuis. Adri, nou 17, het haar leerlingrybewys en is volgende jaar in matriek. Hierdie 4 kinders se ouers is ook nog gelukkig en gesond.


I. PAUL EN LYD HOOGENDYK
Tant Lyd sê dit gaan met haar nog goed. Sy is op die oomblik in Amerika- kuier 'n bietjie by Paul en Jean....sy sal omtrent 2 weke weg wees. Johan en Marietjie het saam met haar gervlieg, om toe te sien dat dit met haar goed gaan. Sy woon heel gelukkig in Potchefstroom en kon maklik aanpas tussen al die doppers. Haar gesondheid is onder omstandighede nog goed.
Chris en Jana Dit gsaan goed met ons. Ons bly steeds in Potchefstroom. Lydia en Pieter bly in Johannesburg en verwag hulle eerste baba in die nuwe jaar....eerste kleinkind vir Chris en Jana. Johan is nog 'n student.
Frits en Magda Met Frits en Magda gaan dit goed. Omdat dit by die werk nie so besig is nie, het Frits meer tyd om by die huis te spandeer. Paul is op die oomblik in Australië waar hy gaan kyk het hoe hulle die silo's daar vervaardig en 'n bietjie ondervinding daar op te tel. Wiida en Dawie is nog in Bloemfontein. Met hulle besigheid, 'Sleeper Corner' is hulle in die afgelope jaar besonder geseënd gewees. Wiida verwag ook hulle tweede baba. Kerneels geniet nog sy werk by Merchantile Registrars. Hy is nou besig met sy tweede jaar as M.B.A. student. Dit hou hom uit die kwaad as hy nie werk nie. Lydia hoop om die jaar te kwalifiseer as verpleegsuster by die PU vir CHO. Hoeveel tyd daar nog aan die studies gespandeer word, weet ons nie, dit lyk asof alle tyd en energie aan die reëlings en voorbereidings vir haar troue op die 2de Desember 2000 met David Jacobs gaan. (nee, dis nie 'n drukfout nie...ons verval onder die Jacobse) As dit nie Dawie is nie, dan is dit David. Magda jnr sprankel en geniet dit as student op die PUK. Sy kry selfs kans om te studeer. Sy is besig met tweede jaar B.Com- Informatika.
Johan en Marietjie Ons is baie geseënd met gesondheid en ook dat dit met die besigheid goed gaan. Ons oudste seuns het gelukkig altwee werk en waarvoor ons ook baie dankbaar is. Ons dogter Annemarie en 3de seun Johan is nog studente op die PUK en Mauritz is in st. 8. Ons bly lekker in Krugersdorp. Paul, ons oudste seun is verlede jaar getroud op 25 September 1999 met Corlia Coetzee en hulle bly in Betlehem. Alwyn is tuis by ons en werk in Roodepoort.
Paul en Jean se besigheid brei baie uit. Paul se kinders kuier gereeld vakansies in Amerika. Paul jnr bly in Amerika en die ander kinders is almal in SA. Kona werk by 'n rekenaarmaatskappy, Jan is nog 'n student en Lydia is nog op Hoërskool.
Willem en Isabel Vogel. Wimpie skryf vanjaar matrieken gaan volgende jaar PUK toe. Lydia maak nou klaar met graad 9 en Paul met graad 5. Ons gemeente het 6-8 Oktober ons 50-jarige bestaan gevier en dit was 'n fees.


J. CHRIS EN BESSIE HOOGENBOEZEM
Johan Anna is op 20 April 2000 in die ouderdom van 56jr oorlede. Die hele familie wil net aan Johan en sy kinders sê ons dink aan hulle in die swaar dae wat voorlê. Sy was 'n goeie vrou vir Johan, 'n goeie ma vir haar kinders en 'n goeie ouma vir haar kleinkinders, wat haar skaars geken het Nogmaals sterkte in die dae en jare wat voorlê. Daar was darem twee sonstraaltjies vanjaar, nog 'n kleinkind en nog 'n skoondogter!
WA en Annatjie Twee kleinkinders in een jaar, dieselfde ouma en oupa, gelukkig nie dieselfde ma en pa nie.
Adrien het gebel en groot asseblief verskoning gevra. Sy speel op 'n troue en kan onmoontlik nie die mense in die steek laat nie. Sy brand egter om ook op die familiefees te wees want sy weet hoe lekker die atmosfeer by Klein Kariba kan wees.
Fanie en Lieb geen nuus
Ockert en Christa geen nuus
Kobus en Greta Greta sê sy het nou gehoor van Johannes wat die oudste neef is, die voorperd, sy kan nou nie juis sê sy is die agterperd nie...maar sy is die jongste van al die neefs en niggies en sy was so pas 40. (Die familie sê, baie geluk en ...al gehoor van agter-os kom ook in die kraal?) ..........